Hallo, my naam is Christine…
Die lekkerste oomblik die hele week was toe ek en Eddie onder die straatlig op die sypaadjie gesit en Huisgenoot lees het. Ons het na al die prentjies gekyk en gelag al kon ons nie al die woorde lees en verstaan nie.
Ek is 9 jaar oud en al wêreld wat ek ken is Sneeubergweg en die pad skool toe. Ek weet ook waar die stasie is en ek speel graag laat in die aande daar saam met van die ander kinders. Daar is mense wat se dit is gevaarlik maar my ma gee nie om nie, so ek verstaan nie waaroor almal so aangaan nie.
My ma en my pa gebruik drugs en baie mense kom na ons huis toe om daar drugs te rook. Dit gaan al so vandat ek ‘n baba is, so ek is al gewoond daaraan. Wanneer die jongetjies daar inkom leer hulle my hoe om ganster signs te maak en as ek dit regkry dan gee hulle vir my ‘n five bob vir ‘n pakkie chips. Langs ons en oorkant ons verkoop vreemde mense los lekkers en chips. Party mense se hulle is van Nigerië. Ander se hulle is van Somalië. Ek weet regtig nie, maar die chips is lekker.
Antie Lisa het jare terug vir my ‘n vraag gevra en die antwoord geleer. Sy het gevra:’Wat is antie Lisa vir Christine?’ en dan moes ek antwoord: ‘Lief’ en dan het antieLisa gevra: ‘Hoeveel’ en dan het ek gese BAIE lief. Dit was ‘n game van lank gelede maar ek glo nog steeds vir antie Lisa en as sy sien ek voel nie lekker nie, speel ons die vra speletjie en dan voel ek sommer baie beter.
Ek hardloop baie aande na antie Lewena toe as ek sien daar is nie kos by die huis nie. Of ek skarrel vir ’n five bob en koop ‘n pakkie chips. Ek is nie altyd lus vir al die kinders by antie Lewena se huis nie. My ma worry nie baie met die kosmakery nie, dis maar meer my pa wat maak.
Ons is ‘n bietjie baie mense wat met tye in die huis bly. Die social workers het ook al ‘n paar keer kom kyk, maar niks het verder gebeur nie. Ek was regtig bang die een keer dat hulle my ma sal wegneem. Hulle het iets gesê dat sy nalatig is met my broertjie. Iets is net nie reg met hom nie. Hy het so ‘n snaakse kyk en hy kan nog glad nie ‘n woord sê nie en hy is seker al 3 jaar oud. Hy hou ook nie veel van speel nie.
Ek het ‘n goeie maatjie gehad, maar sy kan mens baie seermaak as mens nie doen wat sy sê nie. Ons is nie nou meer vreeslike goeie vriende nie. Ek weet nie hoekom dit so is nie, maar ek sukkel om vriende vir lank te hou.
Die jongetjies, taxi drivers en seuns hou vreeslik baie van my. Soms doen hulle snaakse dinge met my. En hulle knip vir my oog, dan knip ek terug. Ek weet hoe om te smile dat almal van my hou.
Om die hoek is daar langs ‘n huis ‘n hok met ‘n groot staaldeur. Daar is net so ‘n klein gaatjie daarin en alles gebeur agter daardie toe deur. Dis drugs. Ek weet dit, want as my ma by die huis kom raak sy besig met die sakkies goed wat sy gekoop het en dan weet ek, ek moenie haar pla nie.
Ek het ‘n groter boetie – ons het dieselfde pa. Ek weet hy is baie lief vir my maar ons baklei ook baie. Niemand hou eintlik van hom vandat hy 12 jaar oud is nie. Ek dink almal dink hy is al groot. Hy het my nou die dag ‘n harde klap gegee en toe skree en huil ek. Die tannies by die Kid’s Club in Badsberg Close het met hom geraas en toe huil hy ook. Ek kry hom baie keer jammer, want daar is nie plek by sy ma vir hom nie, haar nuwe boyfriend se broer hou nie van hom nie, en daar is ook nie eintlik plek by ons nie want my ma hou nie van hom nie. Iets wat ek nie kan verstaan nie is hoekom hy nie in die oggende, wanneer hy by ons geslaap het, saam kan Kellogs eet nie. Of mieliepap. Of wat ons ookal eet nie. Hy moet altyd rondskarrel vir ‘n five bob vir ‘n pakkie chips.
Ek onthou eenmaal toe antie Lewena met vakansie gegaan het en antie Lisa in die huis kom bly het. Een aand moes ons die volgende aand se kos gemaak het in ‘n groot pot. My broer het die uie en tamaties gesny en sy oë het vreeslik getraan en ons het so gelag dat ons oë ook begin traan het. Antie Lisa het my aan al die spices laat ruik en ons het ‘n speletjie gespeel dat ek moes ruik wat is wat. My werk was om die spices in die pot te gooi saam met die ander goed. Dit was ‘n lekker aand. Ek dink ek het ‘n fout gemaak daai tyd om vir al die kinders te vertel van die pot kos, want die volgende aand was die sitkamer en die trappe vol en daar was nog kinders buite. Almal wou kom eet het van die kos wat ek en my broer en antie Lisa gemaak het.
Deesdae is my hart meestal seer. Daar is baie dinge in my lewe wat nie reg is nie. Ek weet al klaar wat dit is om my lyf te gee vir ‘n R5 en hoe om my smile te gebruik dat al die mans doen wat ek vra.
Ek hoop nie ek word soos my ma nie, want haar hart is gebreek en sal nooit weer regkom nie. Haar oë se dit vir my. Elke dag.