…Ek’s bestem om hierdie oomblik hier te wees

Liefste Lisa

Baie baie dankie dat jy my saamgeneem het en jou lewe in Heideveld met my gedeel het. Dit was verseker ‘n life changing ervaring en iets wat ek beslis weer sal doen en my vriende sal aanmoedig om te doen.

Dis nou 10dae sedert ek in Badsberg close gekuier het en vandat ek daar weg is spook my ervaring by my.

Hoeveel honderde kere het ek nie al op die N2 verby die non-descript huisies gejaag sonder om eers ‘n gedagte te gee aan wie daar woon of wat agter die mure van die huisies aangaan nie.

Hier in die ‘suburbs’ woon ons almal in ons eie bubble en gaan ons eie gang. Om gou ‘n brood en melk (en gewoonlik sommer ‘n chocolate en speelding ook) te gaan koop is so automaties soos asemhaal vir ons.

Ek weet nie wat ek verwag het nie, nee, ek dink nie ek’t regtig geweet WAT om te verwag nie, maar Heideveld het my asem weg geslaan…goed en sleg.

Aangekom in Badsberg close met al die nuuskierige ogies wat om hoekies loer om te sien watter wit antie nou hier is is ek begroet met ‘n heerlike drukkie van jou my vriendin en dadelik het ek geweet, ek’s bestem om hierdie oomblik hier te wees.

Tannie Levina se huisie is klein, en mens kan sien hy’t al jarre se diens gedoen,maar elke dingetjie is op sy plek en als is pragtig skoon en netjies! Ek kannie glo daar gaan op ‘n daaglikse basis so baie kinders daar deur en dis steeds so netjies nie!!

Al die tannies is versigtig vir die nuweling maar vreeslik vriendelik en nooit voel ek onwelkom nie.  En toe…die pragtige pienk netbalbaan en ‘n stormloop van vuil,skoon,klein,groot,seuntjies,dogtertjies en sommer almal wat om ons saam drom en die lekkerste drukkies uitdeel. My hart het vermurwe en binne my hart agter my glimlag het die trane gestroom vir elke pragtige kindjie. Die pyn wat in sommige van daardie jong ogies wegkruip is onbeskryflik, geen kind moet sulke goed beleef nie.

Dis amper 19h00 en kleine ou kindertjies, sommige seker net 2 of 3 jaar oud speel nog op straat, nie ‘n volwassene in sig nie. Ek dink aan my eie 3 kleintjies wat teen die tyd al gebad en aangetrek is in hul warm winter slaapklere en met vol magies elkeen in hul EIE bed le met die elektriese kombers aan en hul teddies onder die arm.

Tyd vir die Monique groepie het aangebreek en die meisies sit in die wendy en wag…20+ meisies in ‘n piepklein wendy huisie. Party is opgewonde,party skaam,party onseker ander loud en vol grappies maar almal het een ding in gemeen; hulle wil net gesien word, as waardevol geag word en hoor dat iemand hulle lief het en dat hulle spesiaal is.

Ek wens dat ek my vingers kon klap en al daardie spesiale dames se realiteite kon verander. Ek bid dat hulle altyd sal onthou dat hulle oneindig spesiaal is, en dat daar baie mense is wat lief is vir hulle en vir hulle bid. Mag elke meisie besef dat sy haar toekoms in haar eie hande hou en dat sy tot enige iets instaat is deur God wat haar die krag gee.

By die huis gekom stap ek deur my huisie (wat skielik baie groot voel!) En loer in by my kinders se kamers, al 3 slaap rustig,sorgeloos en warm. Hulle weet hulle is geliefd,geborge en veilig. In die vroee oggend ure kruip hulle tussen mamma en pappa in en ek gee vir elkeen ‘n ekstra soentjie en vee die traan van my wang af vir elke kindjie daar buite wat nooit die onvoorwaardelike liefde van ‘n mamma en pappa sal ervaar nie…

Ek hoop om gou weer te kom kuier.

Baie liefde en drukkies

Yvette