Ons Gangsta’s Paradise

As I walk through the valley of the shadow of death
I take a look at my life and realize there’s not much left

Cause I’ve been blastin’ and laughin so long that
Even my ma’ma thinks that my mind is gone

Klink dit bekend?  Psalm 23 met ‘n draaitjie?

Ja, jy is reg.  ‘n 1995 lied van Coolio met die naam Gangsta’s Paradise.  Hierdie lied het besonderse bekendheid verwerf as temalied van die fliek, Dangerous Minds en ons het dit weer gaan uitgrawe om iets te verstaan van onsself.

Op die Kaapse Vlakte noem ons onsself go-ghettos in plaas van go-getters, ons weier om krag weg te gee, dus skree en vloek en trap en baklei ons vir onsself.  Ons wil so graag glo dat daar ‘n lewe is wat anders lyk, maar ons glo dit nie regtig nie want hierdie lewe is wat ons ken en dit is wie ons is.  Hierdie ses (of dalk meer?) strate van ons woonbuurt is ons s’n.  En óns leef hier.

Been spending most our lives living in the Gangsta’s Paradise
Keep spending most our lives living in the Gangsta’s Paradise

Ons wonder gereeld oor selfmoord en kry dit soms reg om te probeer om ons eie lewens te neem, maar dalk is ons net té sterk om dood te gaan?  Dalk oorskadu ons wil om te lewe alles?  Hoekom is dit dan dat ons hier moet lewe? Seks en pornografie en dwelms bring kleur aan ons bestaan.  Ons word misbruik en later misbruik ons ander.  Dit is hoe dit is.

Death ain’t nuthin but a heartbeat away
I’m livin life do-or-die-a, what can I say?
I’m twenty-three now, but will I live to see twenty-fow’?
The way things are goin’ I don’t know

In ons woonbuurt het ons net mekaar.  Ons leen oor en weer en maak mekaar se kinders groot.  Die seuns speel krieket met planke, klippe en stukkende vullisdromme; die manne sit op die hoeke van die strate, speel dominoes en trek al agter die sonnetjie aan; die meisies maak hulle mooi en spring tou en lag uitbundig.  In die games room word daar gesit, gerook, geskel, gelag en as jy gelukkig is en ‘n paar sente in jou sak het, kan jy dalk ‘n paar rand wen by die plaaslike dobbelmasjien.

Tell me why are we, so blind to see
That the ones we hurt, are you and me

Ons oumagrootjies praat met ons, want hulle weet hoe die lewe was en hoe die lewe nou is.  Hulle gaan kerk toe en bid vir ons siele, maar gaan dit help?

Been spending most our lives living in the Gangsta’s Paradise
Keep spending most our lives living in the Gangsta’s Paradise

Dalk is Gangsta’s Paradise ons ewigheid.  Of dalk nie.  Sê die Heilige Boek van ons oumagrootjies nie die volgende nie:

‘n Psalm van Dawid.

Die HERE is my herder;
niks sal my ontbreek nie.

Hy laat my neerlê in groen weivelde;
na waters waar rus is, lei Hy my heen.

Hy verkwik my siel;
Hy lei my in die spore van geregtigheid,
om sy Naam ontwil.

Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee,
ek sal geen onheil vrees nie;
want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.

Dalk gee God aan ons die genade om dít te kan glo.