Hallo, my naam is Ryan…

Ek is nog klein maar ek weet alles van Heidveld af. Die groter kinders is nou al gewoond daaraan dat ek so saam met hulle loop. Ek is deel van hulle groep.

My pa drink vreeslik baie en dan is sy geduld min en hy praat aanhoudend. Hy sit graag deur die dag in die son op ‘n ou verfblik. My ma hou van drink oor  naweke, want sy werk partykeer in die week. Ek het nog nie baie my pa sien werk nie.

Daar was ‘n tyd, toe ek nog kleiner was as nou, dat my pa ‘n shibeen gehad het. Sommer so uit ons vibecrete hok. ‘n Shibeen is ‘n huiswinkel waar hulle black label bier verkoop. Kaste vol. En soms het die mense sommer so daar op die bankies in ons jaart sit en drink. Hulle mag seker nie by die huis gaan drink nie. Die landlady het gesê my pa moet stop met die nonsense want sy is nou bekeer en die Here gaan haar straf. Die black label huiswinkel is anyway simpel – ek het die leë bottels se druppels gelek en dis vreeslik bitter.

Ek het begin Kid’s Club toe gaan toe ek drie was want die anties het gese ek moet van die doek af wees. Ek kon nie wag om van die doek af te wees nie. Ek het partkeer nog glipsies gehad in antie Lewena se huis, maar dan het almal net gelag en my huis toe gestuur vir droeë klere. Hulle het altyd gefreak as ek met ‘n mes of ‘n lighter of ‘n sigaret daar aangekom het. Ek het dit op die tafel in ons huis gekry, so ek het nie eintlik die gefreakery verstaan nie. My pa los dit dan daar en as ek op my tone staan kan en daar bykom.

Nou een dag het ek saam met die seuns geloop. Dit was die middag se kant, skoolvakansie en ons was verveeld. Ons het ‘n kat gesien in die boom en almal het gesê ons moet bietjie met die kat speel. Die arme kat was skoon bang  toe ons op hom afstorm en almal gelyk aan die arme ding ruk en pluk. Ek het nie baie van die stoeiery gehou nie en het eenkant gaan staan. Van die kinders het gemaak of hulle ougat wil maak met die kat. Dit het nie reg gelyk nie en ek het nog so ‘n entjie verder weggestaan. Ek dink hulle het ougat gemaak met die kat, want die kat het geskree. Toe ek weer sien toe begin hulle om die kat vas te hou en met klippe te gooi. Ek was ook lus vir die speletjie en het ook begin klippe gooi na die kat. Na is rukkie was die kat dood. Die mense wie se kat dit was het net die dooie kat gekry toe hulle van die werk af gekom het en hulle is dadelik polieste toe. Van die seuns se name is daar opgeskryf by die polieste maar ek dink nie myne nie. Dit was nie ‘n lekker dag nie.

Dinsdag het ons gaan karringkies speel bydie Kid’s Club en dit was soos altyd baie lekker. Daar was tot ‘n klein scooter bike waarop die ander kinders my rondgestoot het. Soms is dit voordelig om klein te wees want die ouer meisies kry my jammer en laat my saam met hulle touspring en bal gooi.  Ek dink nog partykeer aan die kat storie, maar dis baie lekker om net te kan speel en te vergeet van my huis, en die kat storie en al die ander goed wat ek al by die dam gesien het.

Ek is mal oor chips en sweets en my oumagrootjie se kos. Almal wil van haar kos eet, maar die pot is net so groot en as dit op is, is dit op. Daar is altyd ‘n drama oor wie se liggeld beurt dit is. En as niemand geld het nie dan eet ons brood en gaan slaap. Dis regtig nie erg soos die grootmense dit maak nie.

Ek is mal daaroor om in die parkie te speel. Swings en slippy en sulke klim goete. Dit raak nou te gevaarlik want hulle bly skiet en my pa wil nie meer hê ek moet daar speel nie. Dis boring in die jaart behalwe as ek die SmartBrain, Monique groep en Babbelbekkies kan pla, daar in die nuwe klas op ons jaart. Dan raak die teachers lekker opgewerk en skel my maar ek smile net sweet. Dan smile hulle ook maar. Ek dink my smile maak magic. Van die kinders mag nie meer klasse toe kom nie, het ek gehoor, hulle sê die klas is op ‘n Westsider se jaart gebou. Ag wat, dan mis die kinders wie se mense Junky Funkies is maar net uit en bly dom.

Daar is net gistermiddag weer ene doodgeskiet oorkant die pad. Ek is klein genoeg om onderdeur die polieste se tape te gaan. Daar was baie bloed en voor ek kon verder kyk het die polieste my daar weggesleep. Al ons kleintjies hardloop altyd rond as daar ‘n skietery was en soek koeëldoppies om die polieste te help. Ons mag net nie daaraan raak nie.

Mujaied wys my hoe om gangsters signs te wys en een van die dae gaan ek groot genoeg wees om dakke te hardloop, maar ek hou van skool ook, Gr R. My juffrou se ek is slim, net soos my sussie en my broer.

Dalk is my smile sweet genoeg en ek slim genoeg om te gaan werk en nie agter my knieë op verfblikke te sit nie.