Walk a mile in my slippers…

Woensdag 18 Mei was ‘n lieflike dag in Heideveld. Ons het ‘n skenking gekry van letterlik honderde pare spierwit slippers, om in Heideveld te gaan uitdeel. Dinsdagaand het ons vir die Monique groepie uitgedeel en Woendag het elke kind by die “kid’s club” ‘n paar vir hom/haarself gekry en een extra paar om mee uit te ryk. Dit beteken ouma, mamma, pappa, oupa, oom op die straathoek, sussie, boetie, wie-ookal hulle gekies het om die extra paar slippers voor te gee.

Dit was inderdaad ‘n goeie dag in Heideveld. Ons staan elke keer verstom oor hoe iets so eenvoudig soos ‘n paar wit slippers, die gemoed kan lig, al is dit net vir ‘n middag. Die strate was oorvloed met klein voetjies wat probeer loop in oorgroot slippers. Almal wou “pose” vir ‘n foto. Oumas en tannies het by hulle voordeure uitgeloer om te kyk wat die boehaai dan nou is.

As jy nog nie in Heideveld was nie, nooi ons jou uit om te kom kyk na ons huisie, ons kinders, ons mense. As daar nog slippers oor is, rus ons jou sommer ook uit met ‘n paar. Anders het ons altyd koffie en ‘n toebroodjie vir ‘n honger magie.

Wanneer jy more oggend jou slippers aantrek, terwyl die reuk van koffie jou kombuis vul, spaar asseblief vir ons ‘n gebedjie. Mag jou slippers jou ook soveel geluk bring. Of ten minste ‘n oggend-glimlag.