Armoede laat mens kreatief dink
Jare gelede het ‘n ene mevrou Floor probeer om die basiese van die Franse taal in ons klas se koppe te kry. Van die Franse taal onthou ek nie baie nie, maar ek onthou een ding wat mevrou Floor vir ons gesê het:’Armoede laat ‘n mens kreatief dink.’
Ek is daarvan oortuig dat die kinders wat by ons in Badsberg Close, Heideveld kom kuier, se breine anders werk as ander kinders s’n. Die grootmense s’n ook, maar dit is ‘n storie vir ‘n ander dag. Heideveld se dogtertjies maak modderkoekie cupcakes in die silwer papiertjies wat hulle kry uit leë sigaretboksies. Die seuns koop kites wat van swartsakke gemaak is teen R2 by uncle Dommie en speel die heeldag trots daarmee. Hulle praat afrikaans en engels en cape flats en so ‘n ander taal wat net hulle verstaan. Die tienermeisies dink hulle kan leer hekel in ‘n uur en 12-jariges is vreeslik opgewonde as hulle in ‘n groepie ‘n puzzle gebou kry wat eintlik bedoel was vir 6-jariges. Daar is van tegnologie geen sprake nie. Die internet is by die biblioteek en ‘n mens mag die rekenaar net vir 10 minute op ‘n slag gebruik want die tou is lank.
Om vir hulle basiese maniere te leer bly ‘n uitdaging en soms voel ek al soos ‘antie asseblief en dankie’ (of natuurlik kanallah en shukraan (‘kassie’ in volksmond) – die Moslem eweknie) en ‘het jy die toilet getrek en jou hande gewas’. Maar soms sal hulle my verras en op ‘n wolkie laat sweef vir weke. ‘Antie Lisa, can I please have a little water?’ of ‘Die sop was baie baie lekker’ (en dit word gese op ‘n snikhete somersdag wanneer die meeste van ons maar sal neus optrek vir warm sop).
Een groot uitdaging wat ons sien, te midde van al die kreatiwiteit rondom ons, is dat die kinders nie genoeg gestimuleer word nie. Hulle woordeskat is beperk en veral die heel kleintjies kan nie kleure van mekaar onderskei nie, hulle kan nie tel nie en het geen idee van o.a. dierename nie. As ‘n span het ons besef dat ons dit sal moet aanspreek. Maar hoe nou?
Gelukkig is daar slim mense wat weet hoe om hierdie saak aan te pak en Magriet Smit van e-kerk het vir ons kom leer hoe om die kinders se aandag te hou en hoe om hulle op kreatiewe maniere te stimuleer. In ons opleiding het ons konsert gehou, kostuums aangetrek, met klei gespeel en geteken. Een oefening wat Magriet vir ons geleer het was om ons ‘monsters’ te teken. Die dinge wat ons lewens versuur en wat ons keer om tot ons volle potensiaal te funksioneer. Net daarna moes ons ‘n prentjie teken van hoe ons wereld sou lyk as die ‘monsters’ nie meer daar is nie. Met die nuutgevonde kennis het ons die middag by die een Kid’s Club klasse vir die kinders gevra om hulle monsters te teken. Hulle is almal tussen die ouderdom van 8 en 12 jaar.
Hulle prentjies het bestaan uit mense wat mekaar vloek (en hulle het al die woorde ook sommer neergeskryf), mense wat mekaar skiet of met messe steek (en van die mannetjies het dood in plasse bloed gelê), baie bottels wyn, dwelms in verskillende vorme en die woord gangsterism (heel moontlik was dit te moeilik om te teken). Ek weet seksuele misbruik is ook deel van hulle lewens maar dit is steeds ‘n onderwerp wat suutjies onder die matjie ingevee word.
Nadat die kinders hulle ‘monsters’ geteken het, het hulle vir hulle teachers kom verduidelik wat hulle geteken het. Die prentjies spook steeds in my kop.
Hoe sal die volgende week se prentjies lyk wanneer hulle moet teken hoe hulle lewens sonder die ‘monsters’ sou wees? Mense wat glimlag en dalk sommer kliphard lag? Veilige skole? Gesinne wat gesellig om ’n tafel sit? ‘n Pappa in elke huis? Hartjies en sonnetjies en veilige strate met bome en goedversorgde honde en katte?
Of teken hulle dalk vir uncle Dommie wat vir hulle almal kleurvolle kites met lang sterte maak wat hoog in die lug uitroep: Vryheid!