Bang, Bang, Bang (AFR)

“Train your kids in the right way, because you will have to face whoever they become in the future.”

Met gemengde gevoelens het ek op Kersaand omstreeks 23:00 die telefoon neergesit. Die afgelope tien dae van Aksie Immanuel was so geseënd en ons het soveel heilige oomblikke, Goddelike afsprake en prettige partytjies beleef.

‘Lisa, Romano* is geskiet. En sy neef Chadwin*. En Chantal*. Nou net.’ Jy kon my omtik met ‘n veer. Dis tog immers Kersdag.

Romano het ‘n jaar of wat gelede besluit om deel te word van die onderwêreld van dwelms en bendebedrywighede, maar ek sal altyd die 14-jarige seun onthou wat ons gehelp het om ons huisie in Badsberg Close op te knap voordat ons daar kon intrek, ‘n ouer Romano wat altyd ons Quantum bussie wou was vir sakgeld en toe die onlangse Romano wat rondskarrel om dwelms op die regte plek en tyd af te lewer. En nou is Romano op 19-jarige ouderdom dood.

Chadwin het ek net so van sien geken, maar ook hy is té vroeg dood. Hy was maar 23.

Chantal is deel van die Monique groepie, ‘n ondersteuningsgroep vir tienermeisies by ons huis in Badsberg Close. Chantal is nou 17 jaar oud, maar sy moes 5 jaar gelede toekyk hoe haar pa koelbloedig doodgeskiet word. Dieselfde man wat verantwoordelik was vir haar pa se dood het ook die sneller getrek om haar dood te maak, maar Chantal se lewe is gespaar. In haar grootste oomblik van nood het sy uitgeroep na die Here en binne sekondes het ‘n ‘groot wit lig’ haar omgestamp, sodat die koeël haar net skrams getref het.

Hierdie gebeure op Kersaand het my laat dink aan die lied van Tracy Chapman: Bang Bang Bang – Hier is ‘n paar grepe uit die lied:

What you go and do
You go and give the boy a gun

Now there ain’t no place to run to
Ain’t no place to run…

And if he finds himself to be
A reflection of us all
Bang bang bang
He’ll shoot us down

 

Ek wens die lied is nie waar nie. En ek wonder vir hoe lank gaan ons dit aan ons kinders bly doen.

(vir die hele lied gaan na: http://youtu.be/TqU3nQkkpxM)

*skuilname is gebruik