Die Mistress

Ek kry haar waar sy in ‘n bondeltjie agter die groot swart munisipale wieledrom sit en huil en ek weet iets vreeslik het gebeur…

’n Vriend van my, wat vir jare vasgevang was in dwelmmisbruik, het eenmaal die volgende gesê (en vir iemand wat nie baie praat nie was dit nogal ‘n redelike lang dialoog): ”Wanneer ‘n mens verslaaf is aan iets, of dit nou drank, dwelms of oor die toonbank pille is, kan ‘n mens nie in ‘n verhouding met ‘n ander mens wees nie.  Jou verhouding is met die drug.  Dit is jou enigste doel en dit is jou enigste behoefte. Dis jou mistress.  Hierdie mistress neem jou hele lewe in besit, jou gedagtewêreld en jou liggaam en sy steel jou siel.  Ook vir my was daar ‘n tyd waar niks en niemand vir my belangriker was as my mistress nie. Die probleem kom wanneer jy probeer om nie meer die mistress te sien nie.  Jy beland in ‘n rehab en daar leer jy baie dinge. Die probleem kom by die toepassing wanneer jy weer in die regte lewe kom. Die een ding wat hulle daar vir jou leer is dat jy vir lank nie verhoudings met ander mense moet hê nie.  Ek bedoel nou soos liefdeverhoudings. Jy moenie ‘n girlfriend kry wanneer jy net uit die rehab stap nie, maar niemand luister ooit nie. Die mistress moet mos weer vervang word met iets en mense is altyd beskikbaar. As verslaafde ken jy all the tricks of the trade van manipulasie en siedaar, jy het ‘n girl wat jou gaan help om oor die verslawing te kom. In rehab leer hulle ons eintlik om eers ‘n plantjie te koop en te versorg vir so 6 maande. As die plant bly lewe en groei, mag jy vir jou ‘n hondjie of ‘n katjie koop, waarna jy ook vir so 6 – 12 maande moet kyk.  Jy mag nie die hond of kat of plant by iemand anders gaan aflaai nie. Jý moet hulle versorg. As alles vlot verloop tot dan, wel, dan is die kans goed dat jy gereed is vir ‘n verhouding met ‘n mens. “

En na dié lang relaas het hy afgesluit met: “Net jammer niemand doen dit nie.”

Ons het haar ontmoet toe ons verlede jaar  ons huisie se deure in Badsberg Close Heideveld oopgemaak het. Sy was klein en vriendelik en baie slim.  Die oulikste dingetjie denkbaar. Sy sou sommer voor ons motor inspring wanneer ons in ons woonbuurt inry sodat sy vir ons  soentjies kan gee.

Die spesifieke aand het ek ‘n redelik ontevrede dogtertjie teen half nege by haar ma gaan neersit, want dit was tyd vir ons span om huis toe te gaan. Vyf minute later toe ons vertrek sien ons haar by die huiswinkel staan met ‘n randstukkie in haar hand en terwyl die trane oor haar wange rol koop sy lekkers.  Op die ingewing van die oomblik het ek uit die motor geklim en nader beweeg maar sy het soos ‘n klein, bang diertjie agter die swart munisipale drom ingekruip en wou nie uit nie.  Ek het haar daar uitgesleep om haar terug te neem na haar ma, maar dié was nêrens te vinde vir die twintig minute wat ek gesoek het nie.  Huise in en huise uit het niks opgelewer en later het ek  haar na ons huisie in geneem waar sy vir die aand geslaap het.  Alhoewel haar ma ‘n halfuur later daar opgedaag het, was my hart ontsteld en ek kon nie help om te dink wat alles met so ‘n klein dogtertjie kon gebeur het as ons haar nie langs die pad gekry het nie.

Die volgende oggend het sy verduidelik dat haar mamma haar gestuur het om lekkers te koop en toe verdwyn het.

En ons weet almal dat die ma vir daardie halfuur haar mistress gaan soek en gevind het. Die mistress, TIK.