Hallo, my naam is Jakes…

My naam is eintlik Jakobus, maar almal noem my Jakes. Ek is gebore in Heideveld en is nou 7 jaar oud. Ek bly by my pa maar hy is nie baie daar nie, so my antie kyk na my. My ma kom loer so nou en dan in, maar sy bly by ander mense in Gugs. My ander ma is antie Lewena in Badsberg Close. Sy weet al ek kom in die oggend by haar pap eet. Sy maak sulke lekker soet, melkerige tee en sy pak vir my en van die ander kinders broodjies in vir skool. Haar huis voel vir my soos my huis en my sitplek is nog van altyd af op die bloedrooi trap in die hoekie. Saterdagoggende sit sy vir ons poppestukkies op die dvd om te kyk.  Antie Lewena het al baie lank terug vir my gese ek moet in die aande ook by haar kom eet soos van die ander kinders. Ons bid, eet, kyk Sewende Laan en dan moet ons almal huis toe gaan.

Ek het ‘n klomp vrinne, maar ek weet nie altyd so lekker of dit ‘n goeie of ‘n slegte ding is nie. Om maatjies te he bring baie keer net probleme, soos laas  Desember.  Ek onthou toe ek kleiner was het ek altyd alleen parkie toe gegaan en met bottelstukke en klippies gespeel. Dit was eenvoudig en daar was altyd iemand om vir my ‘n five bob te gee sodat ek vir my ‘n pakkie chips kan gaan koop by die uncle van Somalië.

Daar was ‘n hele drama laas Desember. Ek dink nog soms daaroor, maar ek probeer om eerder nie meer daaraan te dink nie. Net soos die dag voordat ek vir die eerste keer skool toe is. My pa was dronk en niemand het vir my skoolklere, skoene en penne gekoop nie. Niks. Ek het nie eens daaraan gedink nie, so opgewonde was ek, maar toe hoor ek van die lys goed wat mens nodig het. Gelukkig het antie Lewena my gehelp en daar was ‘n ander gawe tannie in die winkel wat vir van my goed betaal het.  Ek was ‘n dag laat vir my eerste dag van skool, maar dit het nie regtig saak gemaak nie.

Ek kan nie verstaan hoekom my skoene altyd stukkend is nie. As ek weer sien is daar ‘n gat onder my voet (dan loop ek op my sokkies) of by my groottoon, dan loer my toon deur die sokkie en skoen. Dit laat almal lag so dan lag ek ook maar.

Ek hou van Dinsdagmiddae, want dan speel ons almal by antie Lewena se huis. Ek speel altyd met die karringkies. Wie wil dan nou puzzle bou of bal speel as daar karre is. Baie van die karre se wiele is al afgebreek en dis alles ons skuld. Ons doen dit aspris. Antie Lisa het gese ons gaan tot Desember met die karre met die af wiele moet speel, maar ons gee nie om nie. Ek hou ook van die sop en brood van Dinsdagmiddae, maar die heel lekkerste is as ek die bekertjies kan uitspoel in die warm, seperige water. Ek en Nazmie en Jason maak vir ons baarde en snorre van die skuim en speel ons is Krismisvaders. Dan lag almal en die lewe is sommer lekker. Sulke tye dink ek nie aan die drama van laas Desember nie.

Antie Audrey en Antie Abi  gee vir ons SmartBrain klasse. A vir appel, B vir bal, C vir…ek kan nie meer onthou nie. Ek verstaan nie altyd so lekker nie, maar ek dink dis omdat ek nie mooi luister nie, want baie keer dwaal my gedagtes na die drama van laas Desember.

Ek weet nie hoekom ons so wreed was met die kat nie. Ek weet ook nie hoekom ons so onderstebo was met die meisies nie. Ons name is by die polisie oor die kat en by die social worker oor die meisies. Ons name is seker by die polisie oor die meisies ook. Laas Desember was ‘n slegte storie.

In antie Lewena se huis is daar ‘n prent wat iets se van die smal weg en die breë weg. Dit wat ons laas Desember gedoen het is ook geteken op die prent, maar dis by die breë weg wat hel toe gaan. Ek kyk en kyk en kyk elke dag na die smal weg. Ek glo dat as ek hard probeer om te doen wat antie Lewena se sal dinge regkom.

Dan kan ek ook hemel toe gaan.