Hallo, my naam is Jerome…
Ek kan regtig nie stilsit nie. Dis altyd ‘n geskellery by die skool, maar ek kan regtig nie. Ek het nou al geleer om my oë om te dop as mense my skel, dan hoef ek ten minste nie te sien hoe hulle rooi in hulle gesigte raak nie.
My juffrou se ek kom knit one slip three skool toe. Ek dink dit het te doen met die boek wat sy afmerk om te sien wie skool toe kom en wie nie. Die ding wat my juffrou nie verstaan nie is dat ek baie keer verslaap en soms as my pa dronk is dan gooi hy ons almal se klere buite en spuit dit nat. Hoe moet ek nou met nat klere skool toe gaan?
Eenmaal het ‘n gawe antie en uncle my en my sussie hotel toe gevat. Five star hotel het al die grootmense gesê. Die antie het by die Kid’s Club uitgehelp en besluit om my en my sussie bietjie vir die weekend weg te vat. Sam het ook sommer in die kar gespring, toe is ons drie daar weg. Die hotel was baie groot. Die badkamers was groter as die hok waarin ons bly. Ons het in die groot restaurant gaan eet en ek is nie seker wat ek geëet het nie, maar dit was baie lekker. Die heel lekkerste was die chocolate milkshake. Die volgende dag was ons Waterfront toe en hulle het vir ons almal klere en skoene gekoop.Ons het nog baie ander goed gedoen, maar ek kan nie meer alles onthou nie.
Die klere en speelgoed wat ek daai tyd gekry het is alles gesteel (of dalk het my ma dit verkoop) en nou is my klere maar net soos altyd, stukkend. My skoene ook. Ek weet nie hoe ek dit regkry nie, maar dit is nou maar hoe dit is. Maar ek het nogal ‘n slim plan uitgedink: ek trek ‘n ontie aan onder my broeke wat agter by die stêre oopgebars is en ek trek sokkies aan by my stukkende skoene. Die hemde lyk nie te bad met gate nie en antie Lorna werk darem my skoolhemde se knope aan. Nou die dag het ek ‘n baie nice nuwe hemp gekry wat iemand gemaak het. Antie Lewena het bly lag vir die wit hemp met die blou sak en gesê sy wonder watter kleur die hemp die middag vyfuur gaan wees. Antie Lewena sê partykeer snaakse dinge, want die hemp gaan mos nog steeds wit wees.
Ek like dit om met die karringkies te speel saam met die ander kinders op Dinsdagmiddae by antie Lewena se huis, want dan hoef ek ten minste nie stil te sit nie. Die stootskraper is my favourite en ek het nou al al die gras voor antie Lewena se huis uitgery. Nou is daar net sand en ek laai dit op die trokkie en gooi dit buite die hek. Ek en van die ander laaities like dit ook om om die hoek te glip waar ons nie eintlik mag gaan nie en om dan die girlies te gaan skrikmaak wat pop speel. Hulle gil kliphard en dan lag ons en hardlopp weg.
Daar gebeur baie lelike dinge. Ek het nou die dag vir antie Lisa gaan sê die kinders bekrag mekaar. Sy het my gevra of ek verkrag bedoel. Al wat ek weet is dat die kinders mekaar bekrag. Op ons jaart dink ek die grootmense doen dit ook. Die bekrag storie laat ook almal rooi in die gesig raak en dan dop ek maar net my oë om.
My ma werk soms en soms is sy al vroegoggend dronk. Sy gaan sit daar by die Heynse se jaart en drink. Dit lyk my op daai jaart is mense altyd dronk, maar ten miste weet ek waar om haar te kry. So tydjie terug het sy vir ‘n paar dae verdwyn. Ek was regtig baie hartseer en het maar heeltyd daar in Badsberg Close gaan rondhang en die Kid’s Club teachers het by my gesit en gesels en vir my broodjies en vrugte gegee. Ek gaan ook na antie Audrey se SmartBrain klas toe, maar ek kry net nie die A, B, C in my kop nie. Die ander kinders lag nou al vir my. Antie Audrey sê dis omdat ek nie stilsit nie, maar wat sy nie verstaan nie is dat ek nie kan nie.
Ek eet baie van daai 5 bob chippies wat mens by die Nagies koop. Antie Lisa sê dit maak mens binnekant rooi en dom. Sy het ook iets gesê van hyperactive en AD something something.
Ek sal maar probeer om op te hou 5 bob chippies eet. Dan kan ek ook die A, B, C opsê en my naam leer skryf.