Hallo, my naam is Joseph…
Ek was baie opgewonde toe ek sien dat daar nuwe mense in ons straat gaan intrek. Ek het sommer dadelik oorgestap toe hulle begin het om die huis te renovate. Ek was 14 jaar oud en nie meer in die skool nie. Dit was net ‘n klomp vroumense wat probeer het om die plek te verf. Hulle het junk cheap verf gekoop wat sommer van die muur afgeloop het soos mens verf. Ons het baie gelag en hulle het beter verf gaan koop.
Een middag met die verwery het ons almal so baie gelag dat ons op die grond neergeval het. Ons het die ceiling probeer verf, maar ons almal was dom en ons gesigte en lywe was vol verf. Ons moes mekaar met waslappe probeer skoonkry en ons het mekaar begin rondjaag, want ‘n waslap is ‘n growwe ding en die verf wou net nie af nie. Ek was baie trots op die huis toe dit klaar was. My handewerk. En dit was goed.
Heideveld is ‘n ander tipe plek. Hulle se mos: You live by the gun, you die by the gun, maar op 14 het ek nog hoop gehad. Die nuwe mense wat ingetrek het, het eintlik vir my hoop gegee want hulle het probeer om my in ‘n skool in te kry. Vir een of ander rede het dit nie gewerk nie. Dalk het my ma nie genoeg aandag gegee nie, dalk het die skool nie belanggestel vir nog ‘n nuwe leerder wat ver agter is nie. Dalk het die nuwe mense by die huis nie geweet wat om met my swak rapport te maak nie. Ek weet nie.
Nadat my ouma en oupa dood is, het dit gevoel asof my hele lewe begin float. Dan is ek hier en dan is ek daar. Ek bly by my ma en pa en boetjies en sussie in ‘n netjiese huis en ons het nice honne ook, maar ek kon net nie meer ‘n grip op my lewe kry nie.
Eendag het ek en van my vrinne besluit om vir ons ‘n lekker sterk hok te bou, daar op die een jaart. Ons was in elk geval besig met verkeerde dinge, so ons besluit toe maar om onsself lekker in te rig. Staalplare en net ‘n loergaatjie. Drugs was ons main ding. En ek het begin hard word vir die lewe en vir mense. Jy betaal jou drugs of jy word opgeneuk. Finish en klaar.
Kinders het voor skool kom drugs koop, sommer so met hulle skoolklere aan. Die straat was baie besig en ons het runners begin nodig kry. Hoe jonger jou runner, hoe minder is die kans die die polieste jou kan vastrek. Hulle kyk nie eintlik uit vir kinders nie meer vir jongetjies soos ekself. Die ander goeie ding van kinders is dat hulle vinnig hardloop en doen wat jy se. En hulle soek net ‘n paar rand vir hulle moeite. Dit is die minste probleme om jou saak so te bedryf..
My nefie is ‘n runner en ek het gehoor dat hy by die Kid’s Club gaaan se het dat hy nie mer met drugs wil deal nie. Hy het nie ‘n keuse nie. Sy ma se hy moet en die linge moet versorgt word. Hulle is nog babtjies. En my laaitie moet ook versorg word. My laaitie lyk ‘n bietjie stadig, sy ma was ‘n heavy drug addict toe sy pregnant was met hom. My ma moet maar kyk hoe die kind kan regkom. Ek het daai girlfriend nogal baie geslaan oor die drugs en pregnancy storie.
Eendag het my ma en my sussie ‘n vreeslike baklei gehad. My ma wou he dat sy gou die drugs iewers moes gaan aflewer. Sy hetgeskree dat synie die regte bra aanhet om dit weg te steek nie. My ma het haar gevloek en geforce om die drugs weg te neem. Gelukkig het niemand haar gevang nie en die drugs het darem nie op die grond geval oor die verkeerde bra nie. My ma se die drugs besigheid is fine want ten minste hoef ons nooit in iemand anders se oe te kyk vir ‘n stukkie brood nie.
Nou die dag was die hele straat vol polieste. Bullet proofs, machine guns, hand guns, bullet proof vans (nie die gewone junk vans waarmee hulle gewoonlik ry nie) en hulle het vinnnig beweeg, met ‘n plan. Net jammer vir hulle dat daar niks in ons hok was nie. Hulle het my ander suster se kamerdeur afgebreek. Shame. Sy is bekeer en daar krap die poliesmanne in haar onderklere en stuff rond. Hulle was in die ceiling, in elke gaatjie, maar hulle het niks gekry nie. Die kid’s Club kinders was baie daardie middag en hulle is almal soos skape op ‘n hok gejaag daar by antie Lewena se huis. Die Kid’s Club anties het ook maar net die storie so bekyk, reg om action te vat as die kids in gevaar is. Die polieste bly in en uit by ons, maar dit lyk my hulle raak moedeloos. Hulle kry omtrent niks. Net nou die dag ‘n paar daggastoppe. Ek wonder wie in die strat bel die anonymous line om ons aan te gee. Well, good luck to them.
Ek onthou goed die dag dat my ouma dood is. Soos gister. Ek was baie lief vir haar. Sy was die glue wat die family bymekaar gehou het. Sy het ook maar ‘n wilde lewe gehad, maar hier op die einde het sy haarself bekeer. Sy was eintlik al die jare Catholic, maar sy het bietjie vergeet van die Here. Mense was in en uit die huis, heeltyd. My hart was so seerek wou net die hele tyd gil en skree om die seer uit te kry. Antie Lisa het na my toe gekom en gese sy is jammer oor ouma. Ek wou op haar skree en se dat sy nie verstaan nie, maar ek het net begin huil en in haar arms gaan staan.
Kersdag het ek besluit dat ons almal na ouma se graf toe moet gaan. Sy was al so 2 jaar dood. Die babytjie moes ook sommer samgaan. Die Here gee en die Here neem. Ek het mooi blomme gekoop en ons het in my pa se kar tot daar gegaan. Ek het lank so by die graf gesit en gedink oor my lewe. Die drugs besigheid, my gefloatery en dit als omdat die glue nie meer daar is nie. Mens se lewe kan baie vinnig verander.
Die res van die dag was stil, maar die aand het die hel losgebars. ‘n Geskietery, en ek en my neef was in die middel daarvan. Ek onthou nie veel nie. Die koëel was in my lyf, ek het my ma hoor skree en toe was alles verby. Net stilte. Ek was maar net 18 jaar oud.
Ek wonder hoe my lewe sou wees as ek destyds weer kon skool toe gaan. Ek wonder hoe my lewe sou wees as my ouma se glue nie weggeraak het nie. Ek wonder of ek ‘n goeie painter sou kon wees. En ek wonder of my laaitie darem sal vorder op skool. Ek sal seker vir altyd bly wonder.