Hallo, my naam is Maruwaan…

Ek is een van sewe kinders, nie almal van dieselfde pa nie, maar ons almal het dieselfde ma. Eintlik is ek nou net een van 6 kinders. My broer is geskiet op Kersdag verlede jaar. Dit was maar ‘n deurmekaar storie. My baby broertjie is oulik en my ma sê hy is haar blessing.

My grootste droom is om ‘n 28 te wees en om tronktjappies te kry. Ek leer myself al klaar hoe om dakke te hardloop en te spring, mens moet dit kan doen as mens ‘n goeie gangster wil wees.

Ek verstaan nie altyd wat mense agter hulle hande oor my fluister nie, maar ek het al gehoor hulle praat van ‘split personality’, van die duiwel besete, gruwelik en dat ‘n demoon in my bly. Al die woorde klink nogal erg, maar ek is maar net Maruwaan.

Partykeer is ek stout en partykeer wil ek nog ‘n babatjie wees, dan suig ek my duim. Ek kan baie vinnig van stout na babatjie verander. Ek weet self nie hoe dit gebeur nie. Miskien het ek super powers soos die heroes wat ons op die poppestukkies sien. Ek weet nie altyd watter een ek is nie en ek weet nie altyd alles wat ek aanvang nie. My pa sê dat ek baie goed alles weet wat ek doen. Ek weet nie. Dalk is ek maar net twee mense en klaar.

Ek moet madrassa toe gaan in die middae, maar baie keer kruip ek vir my pa weg wanneer hy my kom haal, want ek wil eerder Kid’s Club toe gaan. Ek kan sien ek werk baie op die anties se nerves wat vir ons uit die Bybel leer, maar dit is lekker om daar te wees. Soms kry ek dit reg om nie uit die klas gejaag te word nie. Dit is wanneer ek my duim suig, maar as ek nie my duim suig nie, ruk alles los.

Ek is nege jaar oud en rook al vandat ek so sewe jaar oud is. Die snaakse ding vir my is dat ek glad nie kan ophou nie. Lyk vir my as ek ‘n ding begin dan moet ek aanhou, maar dis alles met verkeerde goed. Daar is goeters wat ek met die meisies en van my vrinne aanvang waarmee ek ook nie kan stop nie. En as ek begin blue movies kyk, dan kan ek ook nie stop nie. Ek hou nie van alleen wees nie, so ek nooi altyd almal om saam met my te kom, dan leer ek hulle alles wat ek op die movies sien en in die boeke. Partykeer kyk ons almal saam en maak ougat met mekaar. Dit lyk vir my die ander kan stop met verkeerde dinge doen, maar ek kan nie. Ek kan nie eers ophou vloek nie en almal se ek vloek verskriklik lelik.

Eenmaal het ek vir antie Abigail gesê sy is ‘n k*****. Sy het begin huil en uit die klas gestorm. Wat ‘n drama oor niks. Sy moes maar net huil en klaar huil, want haar trane het my niks gedoen nie.

Ek hou van guns en ‘n geskietery.  En van messe. Nou die dag het hulle sommer ‘n laaitie se arm afgesteek dat dit bloei en pap hang. Ek dink die hele storie was oor drugs. My oupa het eendag met sy gun uit die huis uit gehardloop en dit in die lug rondgewaai. Daar was baie kinders want dit was tyd vir Kid’s Club en almal het geskree en in antie Lewena se huis in gehardloop. Ek het dit gelike om te sien hoe bang almal was. Ek was nie bang nie. Die polieste het gekom en ‘n man in die van gegooi en ek het sommer die man deur die venstertjie gaan vloek.

My ouma en oupa is nou al dood. My oupa het die klopse afgerig en my ouma was ‘n shoplifter. Sy het altyd vir ons lekker name brand skoene en klere gebring en dan kon ek hard in die ander kinders se gesigte gelag het wie se klere en skoene stukkend was.

Almal sê my ouma het haar bekeer voor sy dood is. Ek weet nie wat dit beteken nie, maar almal het bly gelyk daaroor.

Nou die aand het die Junky Funky Kids op my pa geskiet daar by die stasie. Gelukkig is hy nie dood nie. Hy skel en vloek my baie, maar hy is my pa en hy kyk darem na ons. Hy kyk dat dinge reg loop by die taxi rank en hy verkoop luxuries en hy het ‘n kar ook.

Ek weet nie of my drome gaan waar word nie, maar die gangsters hou van my en gee nie om as ek hulle afluister in hulle hokke waar hulle meetings hou nie.

Ek dink al hoe meer ek is twee mense en ek hou al hoe minder daarvan om my duim te suig. Dalk word ek net een. ‘n Ag.

 

Iets het gister gebeur…

…my pa is geskiet daar op die stasie. Daar was elf skote en ‘n hele paar daarvan was in my pa se kop. Hulle se hy is dood, my suster se ook so, maar ek gaan nou kyk of ek hom kan wakker skud. As hy nie wakker word nie gaan ek myself ophang.

 

Woordeskat:

28 – tronkbende
Tjappies – tattoos
Poppestukkies – animasie dvd’s
Madrassa – skool waar kinders leer oor die Moslem geloof
Blue movies – pornografiese flieks
Ougat maak – mekaar sodomiseer
Junky Funky Kids – Die naam van ‘n bende
Ag – kort weergawe van 28 tronkbende