Miena se Gebed
Die krag van gebed kom in alle skoengroottes voor…
Dit het ek net weer besef toe ek hoor hoe klein Miena (drie jaar oud) voor ons almal dankie gesê het vir die toebroodjies wat ons sou ontvang.
Miena en haar boetie, Benito, is vir die afgelope 2 jaar al deel van ons It’s amazing Kids Club, in Heideveld. Elke Dinsdag en Woensdag kom klop hulle aan by ons huisie vir ietsie lekker om te eet, ʼn bietjie liefde en speeltyd saam met die ander maatjies. Die res van die week kom kuier hulle gereeld by ons huismoeder, tannie Lewena, waar die liefde oorloop en daar altyd ʼn ietsie ekstra te ete is. Dié twee, onder andere, het voorwaar in ons harte gekruip. Hulle word groot in baie moeilike huislike omstandighede en dis merkwaardig om te sien hoe sterk en tog broos hulle is. Benito (vyf jaar oud) het die rol ingeneem van Miena se beskermer. Orals waar Miena gaan, gaan Benito en orals waar Benito gaan, gaan Miena. Die boetie-sussie liefde kan enigiemand van ʼn myl af sien, dis werklik inspirerend.
ʼn Rukkie gelede, soos enige ander Woensdag, het ons almal (+/- 120 kinders) bymekaargekom om hande te was en ʼn toebroodjie te geniet, toe ons vra wie gaan vir ons “ogies sê”? Miena het dadelik haar hand opgesteek en uit geskree sy wil. Miena is gewoonlik baie stil en beslis nie een om die skare te vermaak nie, maar ons dink dis te danke aan juffrou Magdel (die nuutste toevoeging tot ons span), wat die voorskoolse speelgroepie lei, dat Miena haar stem ontdek het.
Miena het dadelik haar oë toegemaak, handjies teen mekaar gesit en begin bid; “Seën ons Vader, vir die ete. Laat ons nimmer U vergete. Amen”
Dit was ‘n groot dankie-sê gebed vir so ‘n klein meisie. Ons kan almal leer by Miena; mens is nooit te jonk of te oud om op te staan en vir die Here dankie te sê nie.