‘n Stukkie uit ons crazy dagboek…

7 September 2010

‘n 23 Jarige man word doodgeskiet om die draai van waar ons bly, dit was ‘n verkeerde plek, verkeerde tyd skietery, deur een van die bendes in die omgewing (een van hulle nuwe lede moes iemand doodskiet om volledig deel te kon word van die bende).  Die man het ‘n 4 jarige kind.  Die kinders wat in die omgewing bly was vir die hele week baie moeilik en ontwrig.

Naweek van 11 September 2010

‘n Skietery in omgewing, maar niemand wat ons ken is geraak deur die insidente nie.  Ons beleef net dat die kinders baie moeilik en aggressief is wanneer hulle na ons toe kom vir Valuable to Jesus Club.

16 September 2010

Ons het ons gewone Donderdagaand byeenkoms gehad, maar die kinders en al die mense was baie moeilik (ons was seker so 50 bymekaar in ons sitkamer) en ek het hulle vroeer huis toe gestuur.  Gewoonlik loop ek saam met die kinders huis toe, maar ek kon nie gaan nie want ek moes ‘n bakleiery tussen twee seuns hanteer.  Een van ons vrywilligers en twee van die omgewing se meisies het saam met die kinders geloop.  Na ‘n rukkie hoor ek net twee geweerskote, baie naby aan ons huis.  Ons mense was nog buite toe dit gebeur het.  Orals is dit net chaos en almal maak hulle deure toe.  Deur die genade het al drie die meisies wat saam met die kinders geloop het, veilig teruggekom by ons huis.  Hulle was wasbleek en baie bewerig.  Gelukkig was al die kinders alreeds veilig by hulle huise toe die skote geklap het.

29 September 2010

Dit was in die skoolvakansie en ons het saam met die kinders (omtrent 70 van hulle) speletjies gespeel in die straat.  Van die mense in die omgewing kom roep my, want ‘n jong man wil ‘n meisie aanrand met ‘n gebreekte bottelkop.  Sy het gelukkig gevlug en niks oorgekom nie.  Van die bure het die polisie gebel en hulle was kort daarna op die toneel.  Ons moes natuurlik ophou speel en al die kinders het nuuskierig gekyk hoe die polisie die ou probeer vang (wat ‘n storie en bakleiery) en in die vangwa gooi.  Baie van die kinders het op die man gevloek en omtrent te kere gegaan.  Die hele straat was deurmekaar, almal praat gelyk en skree en ewe skielik ruk ‘n omie ‘n geweer uit.  Hy is die oupa van van ons kinders en verskriklik ontsteld.  Hy dreig om sy seun, wat in die vangwa is, te skiet en sommer sy kleindogter ook wat probeer om die vangwa oop te maak.  Tussendeur probeer ek om al die kinders in ons erf te kry, dat as die man begin skiet, ons ten minste kan wegkruip.  Die polisie ry weg en die oom bêre sy geweer agter in sy broek, net om dit later weer uit te ruk. Ek besluit toe om later met die oom te gaan gesels. ‘n Goeie gesprek – hy is net moeg en moedeloos en sy senuwees is gedaan (en dit maak my senuwees gedaan, want hy sal sommer iets onverantwoordelik aanvang).  Die man wat die meisie wou aanrand is later daardie dag weer vrygelaat.

13 September 2010

Amiena (‘n jongerige vrou) is met ‘n baksteen/hammer/byl geslaan deur haar vriend (sy was self nie seker waarmee sy aangeval is nie). Ons is ontbied om haar hospitaal toe te neem en sy het 8 steke gekry en kon weer saam met ons huis toe kom.  Ons het haar genooi om vir ‘n rukkie by Levina in ons huis te gaan bly, maar sy wou nie.  Sy wou teruggaan na die ou wat haar so seermaak en geen klag by die polisie lê nie. Die aand is sy weer geslaan met ‘n baksteen of iets (blykbaar deur een van die jong meisies in ons straat) en hierdie keer is sy in die hospitaal opgeneem en moes vir ‘n hele rukkie daar bly.

‘n Uittreksel uit ‘n email van een van ons vrywilligers aan my na die bogenoemde voorval:

Ek weet nie wat om te doen nie. Eks so upset gewees toe ek dit hoor. Watse wereld is dit, Lisa, wat jy iemand met ‘n BAKSTEEN kan slaan of kan slaan tot haar brains uitkom? En vandag is dit business as usual?? Niemand bel die polisie nie niks. Eks soooo kwaad! en upset en ek weet nie wat om te doen nie. Dis nie reg nie en die wereld is net  sleg!! Ek weet nie wat om te doen nie. Ek’t lekker gehuil…

18 September 2010

‘n 10-jarige meisie van Willows Laerskool (naby aan ons huis) is verkrag deur ‘n man wat om die draai van ons bly, hy het haar van die skoolgronde af gaan haal (I mean really…!). Die man word in hegtenis geneem en die kind word na die Rooikruis Kinderhospitaal geneem (ons ken nie die meisietjie nie, sy bly blykbaar aan die anderkant van die spoorlyn in Gugulethu).

20 September 2010

Man word vrygelaat, alhoewel almal aan ons vertel dat hy ook ‘n saak van moord teen hom het (blykbaar sy eie broer doodgemaak en sy ander broer ondersteun hom finansieel). Daar is ook gerugte dat hy sy eie ma verkrag het.  Hy het een van die dametjies wat ons probeer help so twee weke gelede gevra om sy skottelgoed te kom was en toe het hy homself aan haar ontbloot.  Sy het gesien dat daar moeilikheid gaan kom, en het by die agterdeur uitgehardloop.  Sy hond het haar baie lelik gebyt.

Tydens ons gemeenskapsuitreik het ons vrywilligers daar aangeklop en met die man gepraat.  Hy het dit nie baie goed hanteer nie. Later die middag het een van die onderwyseresse van Willows Laerskool en ander vroue van die gemeenskap na ons huis toe gekom en redelik aggressief gevra wat ons aan die saak gaan doen van hierdie man. (Die feit is dat die man al vir lank in hulle gemeenskap bly en hulle het nog nooit iets gedoen nie…) – Hierdie Woensdag gaan almal van die gemeenskap wat wil by ons huis bymekaarkom en dan sal ons die saak bespreek en polisie toe gaan (indien nodig) en gaan uitvind wat aangaan met die man en hoekom hy op vrye voet is ens. Altyd moeilik om die regte storie uit te vind… –

Die vroue was net weg en daar begin die jong manne van ons straat (die manne wat niks doen heeldag) voor ons huis mekaar dreig met messe.  Gelukkig is die saak toe sonder té veel geweld uitgesorteer.