Hallo, my naam is Naasir…
Die kinders skree vir my : Bunny. Dis iets baie lelik om vir iemand te sê, maar hulle doen dit anyway. Ek bly my oumagrootjie en is 9 jaar oud. Ek besef nou dat die lewe nie is soos wat ek gedink het nie.
My ma is ‘n TIK addict en wou my toe ek twee weke oud was in die toilet verdrink het. My oumagrootjie en antie Cathy het my kom haal voor die social workers my in ‘n home kon sit. My ouma noem ek mamma en my antie noem ek Tietie. Ek slaap nog steeds saam met my ouma op haar bed. Ek is té bang om alleen te slaap, maar nou raak dinge bietjie beknop want Tietie se dogter en haar baba moet ook nou daar slaap.
Ek mag nie té veel hardloop nie want ek het ‘n baie swak bors. Dit bly benoud raak as ek net ‘n bietjie speel. Almal sê dis omdat my ma TIK gebruik het toe sy pregnant was met my. Ek sal nie weet of dit waar is nie.
Ek sukkel verskriklik met my skoolwerk. Ek bly die e omdraai en die d en die b. Ek verstaan nie regtig wat in die klas aangaan nie en dan raak ek so frustrated dat ek sommer begin huil. Die juffrou raak geirriteerd met my en die kinders spot my. Baie aande hoor ek nog hoe hulle skree: ‘Bunny,bunny, Naasir is ‘n bunny.’
Ek het ‘n paar vriende, maar as ek weer sien dan skuif hulle my uit. Ek voel baie keer asof niemand van my hou nie en niemand my regtig wil hê nie. Ek weet regtig nie wat ek gaan doen as mamma doodgaan nie. Sy is al in die tagtig en glad nie meer so gesond nie. Ek wonder wie na my sal kyk en waar ek sal heengaan as sy nie meer lewe nie. Die veiligste plek op hierdie aarde is in haar arms.
Mamma gil baie op my, want ek soek altyd ‘n rand. Soms klap sy my sommer. Ek weet mamma kry net pension en het nie baie geld nie, maar al die ander kinders het altyd chips en sweets en ek wil ook hê. Mamma is altyd die een wat rondskarrel vir iets vir die pot vir die aand en mamma laat altyd die kinders eerste eet voordat sy eet en as daar nie genoeg oor is vir haar nie, maak sy ‘n koppie tee en vra vir die Here om haar honger weg te vat.
As ek regtig stout is dreig hulle my met my pa. Ek en my pa sien nie veel van mekaar nie en gesels amper nooit nie, behalwe as hy geroep word om my te slaan. As dinge regtig erg raak en ek glad nie wil hoor nie, dreig hulle om my terug te stuur na my ma toe en hulle hou aan met die storie van toe ek twee weke oud was.
Ek was een van die eerste Kid’s Club kinders. Ek hou daarvan by die Kid’s Club. Al die anties gee lekker drukkies en kyk altyd uit vir my. Die afgelope tyd wil ek nie eintlik meer gaan nie, maar ek gaan want ek hou van die sop en die broodjies en die vrugte in die middae. Ek weet ek kan elke aand ook by antie Lewena gaan eet, maar ek kry te skaam om te sê ek is honger. Ek weet mamma kry baie keer liggeld en iets vir die pot by antie Lewena, maar nie mamma of antie Lewena praat daaroor nie. Dis hulle geheim.
Ek onthou ‘n baie lekker dag saam met mamma, uncle Fourie en antie Lisa in die Waterfront. Ons het uitgegaan vir mamma se birthday en lekker seafood geëet. En roomys. Ek kon nie so lekker konsentreer op al die kos en koeldrank nie want daar was ‘n merry-go-round met karretjies waarop ek wou ry. Dit het R5 gekos. Na ons geëet het, het uncle Fourie vir my betaal om op die karretjies te gaan ry. Ek was baie bang, maar ‘n meisie het langs my kom sit wat glad nie bang was nie. Sy het haar arms in die lug gegooi en kliphard gelag. Sy was so mooi vir my. Amper soos ‘n engel. En toe die perdjies stop het sy vir my die mooiste smile gegee en afgespring. Dit was ‘n dag wat ek vir altyd sal onthou.
Ek wonder elke dag wat van my gaan word en of iemand ooit weer so mooi vir my sal smile.