Om ‘n pa te ‘produce’ vir Kersfees…

(opskrif geleen uit ‘n artikel wat vroeër die jaar in Die Burger verskyn het)

Dit was ‘n soel somersaand en almal in Badsberg Close in Heideveld was buite. Ek onthou dit soos gister. Jason het met sy overall vol verf verbygeloop en ons het sommer spontaan begin gesels oor sy anger-management problems, die moordsaak wat oor sy kop hang, sy vuiste wat hy té vrylik gebruik op sy vrou, kinders en vriende en ook oor die dae toe hy maar net ‘n klein seuntjie was met ‘n vreeslike streng pa. Sy laaste woorde aan my, voor hy aangestap het na hulle houthok, was: “Ek wil regtig baie graag regkom, Lisa.”

Dié regkom het ek gesien gebeur, baie stadig, maar tog. Sommige dae was dit een tree vooruit en veral naweke weer tien tree agteruit, maar altyd ‘n huiwerende stappie in die regte rigting. Jason het nie omgegee as ek hom kwaai aangespreek het oor sy humeur nie en ek is altyd vriendelik verwelkom in hulle eenvoudige houthok. Ek het baie hoop gehad vir hierdie gesin. Hulle is die enigste gesin in ons straat waar daar ‘n ma en pa was. Die ma en pa is getroud en die twee kinders is albei van dieselfde ouers.

Op Sondagmiddag 16 Oktober 2011 het Jason vir sy vrou gevra of sy vir hom lief is. Sy was heel uit die veld geslaan en na die vraag het  hy sy liefde aan haar verklaar en vergifnis gevra vir alles wat hy deur al die jare aan haar en die kinders gedoen het. Op Maandagaand 17 Oktober 2011 het hy teen 21:00 die aand gesê dat hy ‘n draaitjie gaan loop.

Jason het nooit weer teruggekeer na sy houthok en geliefde vrou en kinders nie. Oppad na sy vriend se huis is hy geskiet deur bendelede van die Junky Funky Kids, en hy is die volgende oggend in die hospitaal oorlede.

Dit het alles tien jaar gelede begin toe Jason een van die bendelede van die Junky Funky kids se ringvinger met ‘n vleismes afgekap het uit selfverdediging. Uit wraak het hulle in 2003 Jason se broer doodgeskiet en in 2005 het Jason ‘n skoot in die maag gekry, maar die Junky Funky Kids was nie tevrede nie. Nou, aan die einde van 2011 is Jason dood en ek hoop die Junky Funkys is nou tevrede.

Ek wonder maar net hoe sal ons nou ‘n pa vir Rihaan (10) en Shane (2) produce vir Kersfees?

Naskrif:

Jason, ek hoor jy het net na die kopskoot vir iemand gevra om vir jou te bid, want jy wou jou saak met die Here regmaak. Jou wens het waar geword Jason. Jy het reggekom. Nou die dag toe hoor ek Koos du Plessis se Gebed oor die radio en ek dink aan jou:

Elke afdraai paadjie ken ek / Elke keer het ek verdwaal / Elke keer het U my iewers kom haal / Maak dit Heer, die laaste maal.
Wat ek is, is net genade / Wat ek het, is net geleen / Eintlik smag ek na U waters van rus / Lei my Heer vanaand daarheen.

RIP, Jason. Ons sal jou mis.