Ouma Joan en my ma se marmelade…

‘Kind, het jy nie vir my ‘n brood se geld nie? Die huiswinkel se prys het alweer opgegaan dis nou ‘n eight fifty (R 8, 50). Seker die petrolprys…’

Ek is ouma Joan se ‘wit kind’. Ek kan nie onthou hoe ek haar ‘wit kind’ geword het nie, en ook nie hoe sy my ouma geword het nie, maar dit is nou hoe dit is, en dit voel goed. Ek het ouma Joan so twee jaar gelede ontmoet in Badsberg Close in Heideveld. Haar huis staan altyd oop vir ons en toe ons vasdraai met spasie vir al die kinders van ons Kids Club is haar voorkamer ingerig vir ons.

Die oumagrootjies van ons straat, Ouma Joan, ouma Mary en Mammatjies kan ‘n mense ure lank besig hou met hulle staaltjies van Distrik Ses. Ouma Mary sal selfs so ‘n draaitjie dans net om vir ons te wys sy was ook eenmaal jonk. Mammatjies was ‘n model op haar dag en ouma Joan…sy lag net en sê: ‘Those were the days…’ Hulle is nie vol bitterheid nie, inteendeel, hulle aanvaar alles gelate. Die een dag wou ek by hulle weet hoekom hulle dan so gaaf is met ons whities, ons colour is dan verkeerd. Die drie oumatjies het geskud soos hulle lag en net gesê: “Ai kind…”

Hanover Park, Lavender Hill, en talle flatse is vernoem na strate uit die destydse Distrik Ses. Dit was seker gedoen om die mense se harte nog seerder te maak…’n herinnering aan wat was, maar wat nooit weer sou wees nie. Hamilton-, Williams- en Windsorstraat. Tennant-, Richmond- en Hanoverstraat. Ons  bly in Badsberg Close, en ek kan nie help om te wonder waar ons straatnaam vandaan kom nie.

(as mens wonder, dan google jy…my bevindings is nie vreeslik wetenskaplik nie, but here we go:

Badsberg is a mountain in the Western Cape…Badsberg Wine Estate, Co-op wine cellar near Rawsonville…Badsberg substation and overhead powerline…

En in Badsberg Close in Heideveld is daar uitdagings so groot soos berge, baie wyn en ander substances en baie energie.)

Ouma Joan se pa was one of the last men standing in Distrik ses. Hy was daar toe die bulldozers gekom en alle platgestoot het. Hy kon net nie weggaan nie. Hy kon net nie. Eindelaas het hy by sy nuwe tuiste op die Kaapse Vlakte opgedaag. Platgeslaan. Moedeloos. “En”, sê ouma Joan, “…daardie hartseer het altyd in hom gebly…hy is daarmee in sy graf in.’

Hulle het seker alle rede om vir ons vies te wees. Ons is wit, praat Afrikaans en dra die geskiedenis van apartheid met ons saam. En tog ook nie. Ons probeer nie regmaak wat ons voorvaders verbrou het nie. Ons probeer nie versoening koop nie. Ons wil maar net lééf – want dis ons land ook dié. Die plakkerskampe, die Kaapse Vlakte, die stede en die Karoo. Ons bly waragtag ook mos hier. Ons kan nie help dat ons witter as sneeu uitgekom het nie. Dis hoe die dice vir ons geval het.

Dié oumas verstaan iets daarvan. Live and let live. Ons het mekaar nodig. Al is dit net vir ‘n brood se geld. Of vir ‘n potjie van my ma se marmelade

My ma, bless her soul dat sy nou so op haar oudag begin jam kook. Daai potjie jam het gemaak dat ouma Joan kon terugdink aan haar jare as klein dogtertjie. Daai potjie jam het gemaak dat ouma Joan vir ‘n oomblik kon sorgvry wees. Terug op die plaas met haar kaalvoete en dun rokkie, in die vars lug tussen die beesmis.

Ouma Joan het nie die R 8,50 gehad vir ‘n brood by die huiswinkel nie, want die sjebeen word nie meer van haar jaart af bedryf nie. En drugs word ook nie meer daar gesmokkel nie. “Die Here kan ons nie seën as ons die verkeerde dinge bly doen nie, my kind’, sê my ouma.

Hoe nou gemaak met die brood se geld? Ken jy die uitdrukking: ‘n Boer maak ‘n plan? Wel, wel, wel…die Cape Flats vat die uitdrukking verder…’n Boer maak ‘n plan en ‘n coloured het ‘n plan.

Wat is ‘n brood se geld nou tussen vrinne?

-Lisa Truter