Hallo, my naam is Sam…

Almal noem my Sam, maar eintlik is ek Samantha George en ek het ‘n sertifikaat vir ballroom dancing gekry toe ek maar net 5 jaar oud was. Ek huppel en dans nou nog oral waar ek wil wees. Ek en van die ander  kinders sing partykeer liedjies en gooi ons lywe totdat  al die anties by die Kid’s Club freak. Ons lag dan net omdat hulle so stervy is.

Ek is die kleinste in die netbalspan en my netbalrokkie is altyd te groot. Ek worry nie, want die spanne wat teen ons kom speel dink ek is nog klein, maar dan verras ek hulle, want ek is die vinnigste in ons team. Ons speel meestal op Sondae ons netbal games in die parkie en my pa maak gewoonlik een of ander skandaal langs die baan. Hy praat gans te veel as hy so dronk is en dan lag almal vir hom. Ek bly maar vêr weg as hy so is, want dit is embarrassing voor al die mense.

Ek was een van die eerste kinders by die Kid’s Club en ek onthou nog die Hot Chocolate kerk wat ons op Donderdagaande gehou het. Ek het sommer met my pajamas gegaan en altyd met handevol 5 bobs daar aangekom, want ek was goed met die dobbelmasjien by die antie se games room om die draai. Eers dobbel en dan kerk. Die dobbelmasjien is nie meer daar nie, so die 5 bobs is maar min.

Ek wil altyd alles van almal weet. Ek wil weet wat die teenage girls by die Monique groep op ‘n Dinsdagaand praat. Een aand het ek hulle afgeluister en hulle het gepraat oor boobs en bras en boyfriends en ek het maar net doodstil sit en luister. Ek weet ek gaan eendag die goed moet weet, so dit is gefile in my brein. Ek wens ek is al twee jaar ouer dat ek ook binne kan sit by die ander girls. In die winter vries my tone as ek so buite moet staan en afluister.

Ek het ‘n special gift. Ek kan myself invisible maak en dit is hoe ek alles sien en hoor. Die grootmense dink hulle het geheime…hahaha…Invisible Sam weet alles.

My foto is opgeplak by antie Tish se stoor by Straatwerk waar sy werk wanneer sy nie by ons in Badsberg Close is nie. Dit is al vir jare daar en ek lyk vir myself net dieselfde. Ek groei net mooi niks. Dalk kry ek nooit eendag boobs en bras nie.

Dis lekker daar by antie Lisa se huis by Straatwerk. Ons gaan elke jaar Krismis soontoe dan swem ons en spring op die jumping castle en gly op die slippy slide. En ons kry facepaint en hardloop aartappelresies. En ons kry gifts. Ek kry altyd nice goete en ek dink ek is die anties se favourite kind.

Mense sê ek is slim, want my ma is baie slim. My rapport is altyd mooi. My boetie is ook baie slim en hy is al in die hoërskool. Hy gaan nie Heideveld Sekondêr toe nie. Hy is te slim vir daai gangster skool. Ek en my boetie is albei in die klopse, hy speel die trompet en ek die simbale. Nuwejaar is ‘n wonderlike tyd.

Ek het nog ‘n broertjie en ‘n baby broertjie. Hy is nie eintlik meer ‘n baby nie, want hy weet hoe om die karre wat in die jaart staan se wiele af te blaas met ‘n klippie. Ek wonder regtig wie dit vir hom geleer het. Hy is seker ook slim, want hy verstaan vinnig en onthou hoe om dit te doen.

Ons bly agter in mamma Joan se jaart. Ons sê almal vir haar mamma, maar sy is eintlik my oumagrootjie. Ons huis is van vibecrete en die nuwe Kid’s Club klas is langs ons huis. Dit was exciting om te sien hoe die klas gebou word en hoe boeta Armien moes meet en pas om die klas in te pas.

Daar is duiwehokke ook op ons jaart. Racing pigeons. Ek wonder hoe werk die storie, want mense wed en wen geld, amper soos dobbel en met die dobbelmasjien wat nie meer om die draai is nie sal ek ‘n ander plan moet maak. Net jammer ek kan nie die meetings wat in die duiwehok gehou word afluister nie. Hulle praat net té sag. Ek word nogal baie huiswinkels toe gestuur vir brood en melk en los entjies en dan gee die mense my darem ‘n 5 bob vir my moeite.

As ek nie weet wat om met myself te doen nie, dan loop ek maar so in die neighbourhood rond en soek na mense om af te luister en as ek iets wil hê sal ek aanhou en aanhou en aanhou totdat die mens ja sê. Dis ook seker een van my gifts. Ek is aanhoudend. En invisible.

Almal wat in Heideveld bly sê dis ‘n junk plek. Ek sê dis omdat hulle vergeet het hoe om te huppel en dans.