Voertsek, djy!

“Voertsek, djy. Voertsek!”  En ‘n paar sekondes daarna weer ‘n harde, “Voertsek, djy!” Ek het gewonder of ek moet bly of gaan, maar toe ek die klein 4-jarige seuntjie sien wat op my spring en aan my vasklou soos ‘n apie, het ek nie meer gewonder nie. Ek het die man daar in die bed sien lê, en gedink: pipsqueak. Dié gangster is jonger as ek.

Ek was blykbaar nie die enigste een wat so gedink het met die eerste ontmoeting van die mannetjie nie. Pipsqueak, ‘n blerrie pipsqueak – jonk en klein.  ‘n Klomp tronk ‘tjappies’, gewoonlik in sy boxers en meestal in die bed. Detox blykbaar van sy TIK verslawing. Of detox hy net weer van sy naweek eskapades?

Hy behoort aan die Westsiders op die Vlakte en slaan sy twee kinders en meisie. Hy slaan sodat sy kinders vir hom bang is en die seuntjie selfs in sy broek piepie wanneer sy pa net skeef na hom kyk. Ja, dis ons groot manne van die Kaapse Vlakte – dié met die guns en die drugs en die mag. Dis hulle wat hulle manlikheid moet bewys deur vrouens en kinders te slaan,want hulle regeer almal deur vrees.

Ek wens ons kan kwaad word vir hulle, maar ons kan nie.

Ons soek nie meer pipsqueaks nie. Ons soek manne.

Woordeboek:

Pipsqueak – ‘n onbelangrike persoon, gewoonlik omdat hy/sy jonk en klein is
Westsiders – een van die vele bendes op die Kaapse Vlakte
Voertsek – beledigende, informele manier om iemand te laat verstaan hy is nie welkom nie
Tjappies – tattoos wat meestal in die tronk gemaak word met gewone ink en tuisgemakte naalde
Boxers – slaapbroekie